Die oorsprong van dood?
“Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”
Génesis 2:15-17
God het uitdruklik vir Adam en Eva gewaarsku dat hulle sekerlik sal sterf as hulle van die ‘boom van kennis van goed en kwaad’ sou eet.
” Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;”
Génesis 3:4.
“die ou slang wat genoem word duiwel en Satan“
Openbaring 12:9.
“Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”
Génesis 3:6
Die satan se eerste groot misleiding was om vir Adam en Eva te vertel dat hulle gewis nie sal sterf nie. Adam en Eva was albei ongehoorsaam aan God deur van die verbode boom se vrugte te eet.
Deur die eeue het die duiwel magtige wonderwerke deur mense verrig wat daarop aanspraak maak dat hulle hul krag van die geeste van dooies verkry.
Voorbeelde hiervan in die Bybel:
Towenaars in Egipte – Exodus 7:11;
Dodebesweerster van Endor – 1 Samuel 28:3-25;
Towenaars – Daniël 2:2;
’n sekere slavin – Handelinge 16:16-18.)
Aan die einde van tyd gaan die satan weer, net soos in Bybelse tye, wonderwerke gebruik, om die wêreld te verlei. (Openbaring 18:23)
Satan en sy engele gaan hulle voordoen as ‘n bonatuurlike agentskap wat roem dat die krag en wysheid wat hulle ontvang, dié van gestorwe geeste is. Hierdie geeste kan vermom wees as gelowige geliefdes of Bybelse profete, of selfs as apostels of dissipels van Jesus wat dood is (2 Korintiërs 1:13). Sodoende gaan biljoene mense hierdeur mislei word.
Diegene wat glo dat die dooies in enige vorm lewe, gaan beslis verlei/mislei word.
As gevolg van hulle oortreding deur na die duiwel te luister en te eet van die vrug, is die volgende oordeel nou oor die mens uitgespreek.
“In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Génesis 3:19
God het Adam nou belowe dat hy as gevolg van sy sonde sal terugkeer na die aarde/stof—met ander woorde, sterf.
“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Romeine 6:23
“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Romeine 5:12
“Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!”
Génesis 3:22
“Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.”
Génesis 3:23
“So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”
Génesis 3:24
God het die mens se toegang tot die boom van die lewe verbied, en die uiteindelike gevolg was die dood. Die mens kon nie meer sy “battery” laai nie. Ook het die agteruitgang in die wêreld en slegte gesondheidsgewoontes die “battery” vinniger laat leegloop.