Die Dood… EN DAN?

Die Dood… EN DAN?

Inleiding

Vir baie is dit ‘n raaisel en lei dit tot ‘n gevoel van vrees, onsekerheid en selfs hopeloosheid. Ander glo dat hulle ontslape geliefdes nie regtig dood is nie, maar by hulle of êrens anders voortleef! 

Andere is verward omtrent die verwantskap tussen liggaam, gees en siel.

Wat jy glo rakende die dode gaan ‘n invloed hê op wat met jou gaan gebeur in die tyd van die einde. Daar is nie plek of tyd om hieroor te gis nie.

Wat het God oor hierdie onderwerp te sê?

1. Die oorsprong van lewe. Waar het alles begin?

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Génesis 2:7

Deur die kombinasie van die stof van die aarde en die asem van die lewe het die mens ‘n lewende siel geword.

ASEM – 05397  {neshâmâh}

1) asem, gees                  

1a) asem (van God)

1b) asem (van mens)     

1c) alles wat asem haal

SIEL – 05315 {nephesh}

a) dit wat asem skep, die asemhalende kern of wese,

1b) lewende wese

1c) lewende wese 

(met lewe in die bloed)

2. Wat was die mensdom se oorspronklik geskape toestand?

God het Adam met ‘n perfekte liggaam, omgewing, insluitend ‘n lewensonderhoudende boom in die tuin, asook gesondheidswette, geskape.

“En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.”

Génesis 2:9

Die mens se voortbestaan het afgehang van toegang tot die boom van die lewe asook die eet van die vrugte daarvan. 

Die boom se vrugte was ‘n teenmiddel vir die dood. Die blare was vir die volhouding van lewe en onsterflikheid. Die voorwaarde vir die mens se onsterflikheid was gehoorsaamheid. 

3. Die oorsprong van dood?

“Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Génesis 2:15-17

God het uitdruklik vir Adam en Eva gewaarsku dat hulle sekerlik  sal sterf as hulle van die ‘boom van kennis van goed en kwaad’ sou eet.

” Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;”

Génesis 3:4.

“die ou slang wat genoem word duiwel en Satan

Openbaring 12:9.

“Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.”

Génesis 3:6

Die satan se eerste groot misleiding was om vir Adam en Eva te vertel dat hulle gewis nie sal sterf nie. Adam en Eva was albei ongehoorsaam aan God deur van die verbode boom se vrugte te eet. 

Deur die eeue het die duiwel magtige wonderwerke deur mense verrig wat daarop aanspraak maak dat hulle hul krag van die geeste van dooies verkry. 

Voorbeelde hiervan in die Bybel: 

Towenaars in Egipte – Exodus 7:11

Dodebesweerster van Endor – 1 Samuel 28:3-25

Towenaars – Daniël 2:2

’n sekere slavin – Handelinge 16:16-18.) 

Aan die einde van tyd gaan die satan weer, net soos in Bybelse tye, wonderwerke gebruik, om die wêreld te verlei. (Openbaring 18:23

Satan en sy engele gaan hulle voordoen as ‘n bonatuurlike agentskap wat roem dat die krag en wysheid wat hulle ontvang, dié van gestorwe geeste is. Hierdie geeste kan vermom wees as gelowige geliefdes of Bybelse profete, of selfs as apostels of dissipels van Jesus wat dood is (2 Korintiërs 1:13). Sodoende gaan biljoene mense hierdeur mislei word. 

Diegene wat glo dat die dooies in enige vorm lewe, gaan beslis verlei/mislei word.

As gevolg van hulle oortreding deur na die duiwel te luister en te eet van die vrug, is die volgende oordeel nou oor die mens uitgespreek.

“In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Génesis 3:19

God het Adam nou belowe dat hy as gevolg van sy sonde sal terugkeer na die aarde/stof—met ander woorde, sterf. 

“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Romeine 6:23

“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”

Romeine 5:12

“Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!”

Génesis 3:22

“Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.”

Génesis 3:23

“So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”

Génesis 3:24

God het die mens se toegang tot die boom van die lewe verbied, en die uiteindelike gevolg was die dood. Die mens kon nie meer sy “battery” laai nie. Ook het die agteruitgang in die wêreld en slegte gesondheidsgewoontes die “battery” vinniger laat leegloop.

4. Wat gebeur wanneer ‘n persoon sterf?

“en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”

Prediker 12:7

… Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Génesis 3:19

Die liggaam keer terug tot stof en die gees keer terug na God, Wie dit gegee het. Die gees van elke persoon wat sterf, gered of verlore, keer dus terug na God.

5. Wat is die “gees” wat na God terugkeer na die dood?

“Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Jakobus 2:26

“want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus.”

Job 27:3

Die gees wat met die dood na God terugkeer is die lewensasem. Nêrens in die hele Bybel het die gees enige lewe, wysheid of gevoel nadat ‘n persoon sterf nie. Dit is net die asem wat lewe gee (lewensasem) en niks meer nie. 

“lewensasem” = ruwach = “gees”

6. Wat is ‘n “siel”?

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”

Génesis 2:7

Die mens het ‘n lewende siel GEWORD, nie GEKRY nie. ‘n Lewende siel het ontstaan deur die kombinasie van liggaam en asem(gees). God het dus nie vir die mens ‘n siel GEGEE nie. ‘n Mens HET ook nie ‘n siel nie. ‘n Mens IS ‘n siel. 

Kom ons vegelyk 2 paralelle tekse in die Nuwe testament om te bevestig dat die siel die persoon self is. 

“Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”

Matthëús 16:26 (AOV)

“Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?”

Lukas 9:25

“Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?”

Matthëús 16:26 (ANV)

‘n Siel is dus die lewende mens.

Waar gaan die siel heen as ‘n persoon sterf

Die lewensasem keer terug na God

Die liggaam keer terug na die aarde/stof

Wat bly oor?

Niks – Die siel hou op om te bestaan.

Die siel is soos die lig van ‘n gloeilamp. Deur die skakelaar aan te skakel, word die gloeilamp van elektrisiteit voorsien, en dit gloei en skyn lig. Deur die skakelaar af te skakel, hou die lig (siel) op om te skyn en verdwyn. Dit hou op bestaan.

7. Kan siele sterf?

“Die siel wat sondig, dié moet sterwe.” 

Eségiël 18:20. 

“en al die lewende wesens in die see het gesterwe.” 

Openbaring 16:3.

Antwoord: Volgens God se Woord sterf siele! Ons is siele en ons sterf. Die mens is sterflik (Job 4:17, Romeine 6:12, 8:11, 2Korinthiërs 4:11, Jakobus 4:14, Job 7:7, Psalm 78:39, Lukas 13:2-3, Johannes 3:16). 

Net God is onsterflik (1 Timotheus 6:15, 16).  

Die konsep van ’n onsterflike siel is lynreg teen die Bybel wat baie duidelik leer dat siele sterf.

8. Gaan goeie mense hemel toe wanneer hulle sterf?

“Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor, en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”

Johannes 5:28, 29

” Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.” “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.”

Handelinge 2:29, 34

“As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei, 

Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, 

wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.”

Job 17:13, 16

Antwoord: Nee, mense gaan nie hemel of hel toe nie. Hulle gaan na hulle graf en wag op die opstandingsdag 

9. Hoeveel weet of verstaan ‘n persoon na die dood?

“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”

Prediker 9:5, 6

“want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” 

Prediker 9:10

“Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie.”

Psalm 115:17

Volgens die Bybel weet die dode absoluut niks nie.

10. Wat noem Jesus die toestand van die dode? 

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.” 

1Thessalonicense 4:13

“Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.”
Johannes 11:11-14

“Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.”

Johannes 11:23, 24

Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. 

Johannes 11:39


Antwoord: Jesus noem die dood “slaap”—‘n toestand van totale bewusteloosheid. 

11. Hoe lank sal ons dan slaap?

“so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.”

Job 14:12

” Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

2 Petrus 3:10.

Antwoord: Die dooies sal slaap totdat die hemele nie meer is nie aan die einde van die wêreld. In die dood is die mens totaal bewusteloos met geen aktiwiteit of kennis. 

12. Vir wie kom Jesus haal met Sy wederkoms?

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”

1 Thessalonicense 4:16, 17

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”

1 Korinthiërs 15:51-53

Die lewende verlostes word in ‘n oomblik verander, en die “slapende” verlostes word onverganklik opgewek en saam word hulle in die lug weggevoer, Jesus tegemoet. 

Daar sou geen sin in hierdie opwekking van die dooies wees as mense alreeds met hul afsterwe hemel toe gegaan het nie.

13. Sal die opgewekte regverdiges ooit weer sterf?

“maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, … Want hulle kan ook nie meer sterwe nie.”

Lukas 20:35, 36.

“En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Openbaring 21:4.

Antwoord: Dood, droefheid, geween en moeite sal nooit in God se nuwe koninkryk bestaan nie.

14. Weet die dooies wat die lewendes doen en is daar kommunukasie moontlik?

“Maar ‘n man sterwe en is magteloos; (en verdwyn 1983 v) ja, ‘n mens blaas die asem uit en–waar is hy.”Job 14:10 (Maar die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy?) [1983] 

 “so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.” “Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.” 

Job 14:10, 12, 21

“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”

Prediker 9:6

“Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.

Psalm 146:4

“Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?”

Psalm 6:6

 “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie;”

Psalm115:17

“Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal sal op U trou nie hoop nie.”

Jesaja 38:18

“Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

Prediker 9:10

 “Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.”

Prediker 3:19 

Antwoord: Die dooies kan nie die lewendes kontak nie, nog minder weet hulle wat die lewendes doen. Hulle is dood en weet niks nie.  

15. Wat is die Bybel se voorskrifte rakende die aanbidding of raadpleging van die dooies??

Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan–wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit. 

Deuteronómium 18:10 – 12 

Antwoord: Hierdie dinge word ten sterkste verbied.

16. Is God die God van die lewendes of die dooies

“Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.”

Matthëús 22:32 

“God is nie ‘n God van dooies nie, maar ‘n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.” 

Markus 12:27 

“Hy is tog nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.”

Lukas 20:38  

Antwoord: God is die God van die lewendes en nie die dooies nie. Osiris word die god van die dooies genoem.

17. Is daar enige verwysing na ‘n onsterflike siel in die Bybel?

Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

1 Timótheüs 1:17

Antwoord: Daar is GEEN verwysing na ‘n onsterflike siel nie. Die Afrikaanse Bybel gebruik die woord “siel” 367 keer, maar nooit die term “onsterflike siel” nie. Die woord onsterflik word net een keer gebruik (1 Timótheüs 1:17), en dit is met betrekking tot God. 

Hy alleen is onsterflik.

18. Wat van: Die dief aan die kruis? [Lukas 23:43]

En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Lukas 23:43

Antwoord: As ons die komma in die gedeelte hierbo nou net een woord aanskuif van voor die woord: “vandag” tot na die woord: “vandag”, dan lees die sin as volg: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met my in die Paradys wees.” Lukas 23:43(aangepas). 

Die probleem is: Dit maak nie saak watter Bybelvertaling ons lees nie, dit bly ’n vertaling. Ons kan egter nie die Bybel verander nie, en aangesien daar geen leestekens in die oorpspronklike teks was nie, weet ons ook nie waar die komma behoort te wees nie. Die Bybel moet homself verklaar. 

Jesus is op die Vrydag gekruisig. Hy het op die Sondag opgestaan. (Lukas 23:55 – 24:1 NAV) 

Kyk wat lees ons nou in Johannes aangaande die Sondagoggend na Sy opstanding: Op die Sondagmôre het Jesus aan Maria gesê: 

“Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie.” 

Johannes 20:17

Jesus was dus die Sondagoggend steeds op aarde en het nog nie opgevaar na Sy Vader nie. Kon hy dus op die Vrydag saam met die man op die ander kruis in die hemel gewees het? Nee, beslis nie. So waar moet die komma wees sodat die res van die Bybel sin maak?

Neem weereens kennis dat die leestekens in die Bybel nie geïnspireerd is nie, maar wel later deur Bybelvertalers ingevoeg is. 

Christus se koninkryk word met Sy wederkoms gevestig (Mattheus 25:31), en al die regverdiges van al die eeue sal eers dan die koninkryk binnegaan en nie met hulle dood nie. (1 Thessalonicense 4:15-17

19. Sal die wat Jesus aanneem nooit sterwe nie? [Johannes 11:26]

“en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie”?
Johannes 11:26

Hierdie teks verwys nie na die eerste dood nie (Hebreërs 9:27), maar wel na die tweede dood, waartydens slegs die onregverdiges finaal gaan sterf, aangesien daar geen opstanding uit die tweede dood is nie. 

Die wat in Jesus glo, sal dus nooit die tweede dood sterf nie. (Openbaring 2:11; 21:8).

20. Wat was die gevolg as mense andere geleer het dat die dooies wel nog lewe?

“En as daar in ‘n man of vrou ‘n gees van ’n afgestorwene is of ‘n gees wat waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word.” 

Levítikus 20:27

Antwoord: God het beveel dat sulke mense (wat aanspraak daarop maak dat hulle die geeste van dooies kan kontak) gestenig moes word. Dit wys God se houding teenoor die vals leerstellings dat die dooies enigiets weet na die dood.

21. Wat sal vehoed dat God se kinders verlei word?

“hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” Handelinge 17:11

” Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.

Jesaja 8:20 

Deur ernstige Byblestudie, sal God se kinders duidelike weet en verstaan dat die dooies dood is. Geeste van die dooies bestaan nie. Daarom sal God se kinders alle profete en leraars verwerp wat daarop aanspraak maak dat hulle spesiale lig ontvang het deur met geeste van afgestorwenes kontak te maak. God se kinders sal ook leerstellings wat daarop aanspraak maak dat die dooies enigsins iets weet terwyl hulle dood is, as vals en gevaarlik verwerp.

22. Wat is die hoop vir elkeen van ons?

“En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.

Openbaring 21:1

“En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. Openbaring 21:4

Was this article helpful?

Related Articles